| ← Job (41/42) → |
| 1. | Niemand is so vermetel, dat hy hom durf terg nie; wie is hy dan wat voor My sou standhou? |
| 2. | Wie het eerste aan My gegee, dat Ek hom moet vergelde? Wat onder die ganse hemel is, is myne. |
| 3. | Ek wil nie swyg oor sy lede en hoe dit staan met sy kragsvolheid en die skoonheid van sy uitrusting nie. |
| 4. | Wie het die boonste van sy pantser opgelig? In sy dubbele gebit--wie kan daarin deurdring? |
| 5. | Die deure van sy gesig--wie het dit geopen? Rondom sy tande is verskrikking. |
| 6. | 'n Voorwerp van trots is die groewe van die skilde, verseël met 'n vaste seël. |
| 7. | Die een is so naby die ander, dat die wind daar nie tussenin kan kom nie. |
| 8. | Hulle kleef aanmekaar, hou aanmekaar vas, onafskeibaar. |
| 9. | Sy genies laat lig skitter, en sy oë is soos die ooglede van die dageraad. |
| 10. | Uit sy mond kom fakkels, spat vuurvonke uit. |
| 11. | Uit sy neusgate kom rook, soos uit 'n kokende pot met biesiesvuur daarby. |
| 12. | Sy asem laat kole ontvlam, en 'n vlam gaan uit sy mond. |
| 13. | In sy nek woon sterkte, en voor hom uit spring ontsteltenis. |
| 14. | Die klompe van sy vleis is vas aanmekaar, aan hom vasgegiet, onbeweeglik. |
| 15. | Sy hart is hard soos 'n klip, ja, hard soos die onderste meulsteen. |
| 16. | As hy hom oplig, word die magtiges bang; van verbystering raak hulle buite hulself. |
| 17. | Raak iemand hom met die swaard--dit hou nie stand nie; geen spies, lans of assegaai nie. |
| 18. | Yster is vir hom soos strooi; koper soos hout wat vergaan het. |
| 19. | Die pyl laat hom nie vlug nie; slingerstene word vir hom soos stoppels. |
| 20. | Knopkieries is vir hom soos stoppels, en hy lag oor die gesuis van die lans. |
| 21. | Onderaan hom is spits skerwe: hy sprei 'n ware dorsslee uit op die modder. |
| 22. | Hy laat die diepte kook soos 'n pot; die waterplas maak by soos 'n kokende salfpot. |
| 23. | Agter hom verlig hy die pad: 'n mens sou die watervloed aansien vir grys hare. |
| 24. | Sy gelyke is daar op die aarde nie, die skepsel sonder vrees. |
| 25. | Hy kyk alles aan wat hoog is; hy is koning oor al die trotse roofdiere. |
| ← Job (41/42) → |