| ← Job (38/42) → | 
| 1. | Daarna het die HERE Job uit 'n storm geantwoord en gesê: | 
| 2. | Wie maak die raadsbesluit daar tot duisternis met woorde sonder kennis? | 
| 3. | Gord dan soos 'n man jou heupe--dan sal Ek jou ondervra, en onderrig jy My. | 
| 4. | Waar was jy toe Ek die aarde gegrond het? Gee te kenne as jy insig het. | 
| 5. | Wie het sy afmetinge bepaal? --jy weet dit mos! Of wie het daaroor die meetsnoer gespan? | 
| 6. | Waar is sy fondamentklippe op ingesink? Of wie het sy hoeksteen gelê? | 
| 7. | Toe die môresterre saam gejubel en al die seuns van God gejuig het? | 
| 8. | En wie het die see met deure afgesluit toe dit uitgebreek, uit die moederskoot voortgekom het? | 
| 9. | Toe Ek die wolk tot sy kleding gemaak het en die donkerheid tot sy windsel. | 
| 10. | Toe Ek my grens daarvoor uitgebreek en grendel en deure gemaak het; | 
| 11. | en gesê het: Tot hiertoe mag jy kom en nie verder nie; en hier word 'n grens gestel vir jou trotse golwe. | 
| 12. | Het jy, solank as jy lewe, die môre ontbied, die dageraad sy plek aangewys, | 
| 13. | om die some van die aarde aan te gryp, sodat die goddelose daarvan afgeskud word? | 
| 14. | Dit neem nuwe vorme aan soos die klei onder 'n seël; en die dinge kry gestalte soos 'n kleed. | 
| 15. | En aan die goddelose word hulle lig ontneem, en die hoë arm word verbreek. | 
| 16. | Het jy gekom tot by die bronne van die see? En het jy rondgewandel in die binneste diepte van die wêreldvloed? | 
| 17. | Is die poorte van die dood vir jou ontbloot? En het jy die poorte van die doodskaduwee gesien? | 
| 18. | Omvat jou begrip die breedtes van die aarde? Gee te kenne as jy dit alles weet. | 
| 19. | Waar is tog die weg na die woning van die lig? En die duisternis--waar is tog sy plek, | 
| 20. | sodat jy dit kan bring, elkeen na sy gebied en kan verstaan die paaie na hulle huis? | 
| 21. | Jy weet dit seker wel, want jy is toe gebore! En die getal van jou dae is groot! | 
| 22. | Het jy gekom by die skatkamers van die sneeu? En het jy die skatkamers van die hael gesien, | 
| 23. | wat Ek opgespaar het vir die tyd van benoudheid, vir die dag van stryd en oorlog? | 
| 24. | Waar is tog die weg na die plek waar die lig gedeel word, die oostewind hom uitsprei oor die aarde? | 
| 25. | Wie het 'n kanaal gesplyt vir die stortvloed en 'n pad vir die onweerstraal; | 
| 26. | om te laat reën op 'n land waar geen mens is nie, op 'n woestyn waar niemand woon nie; | 
| 27. | om woestheid en verwoesting te versadig en op die groeiplek jong gras te laat uitspruit? | 
| 28. | Het die reën 'n vader? Of wie verwek die doudruppels? | 
| 29. | Uit wie se moederskoot kom die ys te voorskyn? En die ryp van die hemel--wie baar dit? | 
| 30. | Die waters word hard soos 'n klip, en die oppervlakte van die watervloed sluit aanmekaar. | 
| 31. | Kan jy die bande van die Sewe-ster knoop? Of die toue van die Oríon losmaak? | 
| 32. | Kan jy die Diereriem uitbring op sy tyd? En die Beer met sy kleintjies lei? | 
| 33. | Ken jy die wette van die hemel? Of kan jy sy heerskappy oor die aarde bestel? | 
| 34. | Kan jy jou stem na die wolke verhef, sodat 'n oorvloed van water jou oordek? | 
| 35. | Kan jy die bliksems uitstuur, sodat hulle heengaan en vir jou sê: Hier is ons! | 
| 36. | Wie het wysheid neergelê in die wolke? Of wie het verstand gegee aan die wolkgevaarte? | 
| 37. | Wie kan die wolke met wysheid tel? En die watersakke van die hemel--wie giet hulle leeg | 
| 38. | wanneer die stof saamvloei tot 'n stuk gietwerk en die kluite aanmekaar klewe? | 
| ← Job (38/42) → |