← Job (36/42) → |
1. | En Elíhu het voortgegaan en gesê: |
2. | Wag 'n bietjie op my, en ek sal u inlig; want daar is nog genoeg te sê tot eer van God. |
3. | Ek sal my kennis van ver af ophaal en aan my Skepper reg verskaf. |
4. | Want waarlik, my woorde is geen leuens nie; een wat volkome is in kennis, is by u. |
5. | Kyk, God is geweldig, nogtans ag Hy niks gering nie--geweldig deur krag van verstand. |
6. | Hy laat die goddelose nie lewe nie, maar aan die ellendiges verskaf Hy reg. |
7. | Hy trek sy oë nie af van die regverdige nie, maar by konings op die troon laat Hy hulle sit vir altyd, sodat hulle verhoog is. |
8. | Maar as hulle in kettings geklink is, gevang word in bande van ellende, |
9. | dan gee Hy aan hulle hul dade te kenne en hul oortredinge, dat hul gedrag hoogmoedig was; |
10. | dan open Hy hulle oor vir die tugtiging en sê dat hulle moet terugkeer van ongeregtigheid. |
11. | As hulle luister en Hom dien, dan bring hulle hul dae deur in voorspoed en hul jare in aangenaamheid. |
12. | Maar as hulle nie luister nie, dan kom hulle om deur die spies, en hulle blaas die asem uit sonder kennis. |
13. | Maar die goddelose van hart koester nyd; hulle roep nie om hulp as Hy hulle bind nie. |
14. | So sterwe dan hulle siel in die jeug en hulle lewe soos dié van skandseuns. |
15. | Hy red die ellendige deur sy ellende en open hulle oor deur verdrukking. |
16. | So lok Hy u dan ook uit die mond van die nood na 'n onbeperkte ruimte en na die behaaglikheid van u tafel wat vol is van vetspys. |
17. | Maar u is vol van die oordeel oor die goddelose: oordeel en strafgerig sal u aangryp. |
18. | Want pas op dat woede u nie verlok by die bestraffing en die grootheid van die losprys u nie verlei nie. |
19. | Sal Hy u geroep om hulp voorbring waar daar geen nood is nie, en alle moontlike kragsinspanning van u? |
20. | Smag nie na die oordeelsnag wat volke wegneem uit hulle plek nie. |
21. | Neem u in ag, wend u nie tot ongeregtigheid nie; want dit verkies u liewer as ellende. |
22. | Kyk, God handel verhewe in sy krag; wie is 'n leermeester soos Hy? |
23. | Wie het Hom sy weg voorgeskrywe? En wie het gesê: U het onreg gedoen? |
24. | Dink daaraan dat u sy werk moet verheerlik waar die mense van sing. |
25. | Al die mense sien dit met welgevalle aan, die sterfling aanskou dit van ver. |
26. | Kyk, God is groot en onbegryplik vir ons; die getal van sy jare is onnaspeurlik. |
27. | Want Hy trek waterdruppels af; hulle sif neer by sy mistige weer as reën |
28. | wat die wolke laat neerstroom, laat afdrup op baie mense. |
29. | Ja, kan iemand die uitspreiding van die wolke verstaan, die gekraak van sy hut? |
30. | Kyk, Hy sprei sy lig oor Hom uit, en die dieptes van die see oordek Hy. |
31. | Want daarmee oordeel Hy die volke, gee Hy voedsel in oorvloed. |
32. | Altwee sy hande oordek Hy met weerlig en gee daaraan bevel teen die aanvaller. |
33. | Sy donderstem kondig Hom aan, die vee selfs dat Hy optrek. |
← Job (36/42) → |