← Job (35/42) → |
1. | Verder het Elíhu aangehef en gesê: |
2. | Hou u dit vir reg, noem u dit: my geregtigheid voor God, |
3. | dat u vra wat dit u baat? Wat help dit my meer as wanneer ek sou sondig? |
4. | Ék sal u antwoord gee en aan u vriende saam met u. |
5. | Kyk op na die hemel en sien, en aanskou die wolke wat hoog bo u is. |
6. | As u sondig, watter skade is dit vir Hom? En is u oortredinge baie, wat kan u Hom daarmee aandoen? |
7. | As u regverdig is, wat gee u aan Hom? Of wat kan Hy uit u hand aanneem? |
8. | U goddeloosheid raak net 'n mens soos u, en u geregtigheid 'n mensekind. |
9. | Vanweë die menigte van verdrukkinge skreeu hulle; hulle roep om hulp oor die geweld van die grotes. |
10. | Maar niemand sê nie: Waar is God, my Maker, wat lofsange gee in die nag, |
11. | wat ons meer leer as aan die diere van die aarde en ons wyser maak as die voëls van die hemel? |
12. | Dan roep hulle, maar Hy antwoord nie, vanweë die trotsheid van die kwaaddoeners. |
13. | Sekerlik, na nietige klagte luister God nie, en die Almagtige slaan daar geen ag op nie. |
14. | Hoeveel minder as u sê u sien Hom nie! Die regsaak is voor Hom: wag dan op Hom. |
15. | Maar nou, omdat sy toorn nie straf nie, en Hy nie grootliks ag gee op oormoed nie, |
16. | maak Job sy mond wyd oop in nietige gepraat, vermenigvuldig hy woorde sonder kennis. |
← Job (35/42) → |