| ← Job (33/42) → |
| 1. | Maar hoor tog, o Job, na my rede, en luister na al my woorde. |
| 2. | Kyk, ek het my mond oopgemaak; my tong spreek in my verhemelte. |
| 3. | My woorde kom uit die opregtheid van my hart, en wat my lippe weet, spreek hulle suiwer uit. |
| 4. | Die Gees van God het my geskape, en die asem van die Almagtige maak my lewend. |
| 5. | As u kan, antwoord my; maak klaar teen my; staan gereed! |
| 6. | Kyk, teenoor God staan ek in dieselfde verhouding as u: van klei is ek ook afgeknyp. |
| 7. | Kyk, vrees vir my hoef u nie te beangstig nie, en my las sal op u nie swaar wees nie. |
| 8. | Sekerlik, u het voor my ore gesê, ek het die geluid van die woorde gehoor: |
| 9. | Rein is ek, sonder oortreding; suiwer is ek, en daar is geen skuld by my nie. |
| 10. | Kyk, Hy soek aanleidinge vir vyandskap teen my; Hy hou my vir 'n vyand van Hom. |
| 11. | Hy sit my voete in die blok; Hy bewaak al my paaie. |
| 12. | Kyk, daarin het u nie reg nie (antwoord ek u), want groter is God as 'n mens. |
| 13. | Waarom het u teen Hom getwis, dat Hy op al die woorde van 'n mens nie antwoord nie? |
| 14. | Want God spreek op een, ja, op twee maniere; maar die mens let daar nie op nie. |
| 15. | In die droom, in 'n naggesig, as diepe slaap op die mense val, tydens sluimeringe op die bed, |
| 16. | dan open Hy die oor van die mense, en Hy druk die seël op die waarskuwing aan hulle; |
| 17. | om die mens terug te hou van sy onderneming en trotsheid vir die man te verberg; |
| 18. | sodat Hy sy siel kan red uit die kuil; en sy lewe, dat dit nie omkom deur die spies nie. |
| 19. | Ook word hy getugtig met smart op sy bed en aanhoudende stryd in sy gebeente, |
| 20. | sodat sy lewe hom laat walg van brood en sy siel van lieflingspys. |
| 21. | Sy vlees verdwyn, weg uit die gesig; en sy gebeente, wat onsigbaar was, steek uit. |
| 22. | Ja, sy siel kom nader by die kuil en sy lewe by die dodende magte. |
| 23. | Is daar dan vir hom 'n gesant, 'n tolk, een uit duisend, om die mens sy plig te kenne te gee; |
| 24. | en is Hy hom genadig en sê: Verlos hom, dat hy in die kuil nie afdaal nie: Ek het 'n losprys gevind-- |
| 25. | dan word sy vlees fris van jeugdige krag, hy keer terug na die dae van sy jonkheid. |
| 26. | Hy bid tot God, en Hy het 'n welbehae in hom, sodat hy sy aangesig sien met gejuig: so vergeld Hy dan aan die mens sy geregtigheid. |
| 27. | Hy sing voor die mense en sê: Ek het gesondig en verdraai wat reg is, maar dit is my nie na verdienste vergeld nie. |
| 28. | Hy het my siel verlos, dat dit nie in die kuil ingegaan het nie, en my lewe mag hom verlustig in die lig. |
| 29. | Kyk, dit alles doen God, twee keer, ja, drie keer met 'n mens |
| 30. | om sy siel terug te bring van die kuil, sodat hy bestraal word met die lig van die lewe. |
| 31. | Let op, o Job! Luister na my; swyg, en ék sal spreek. |
| 32. | As u woorde het, antwoord my; spreek, want ek wil u graag gelyk gee. |
| 33. | So nie, luister ú dan na my; swyg, en ek sal u wysheid leer. |
| ← Job (33/42) → |