← Job (32/42) → |
1. | Toe het dié drie manne opgehou om Job te antwoord, omdat hy in sy eie oë regverdig was. |
2. | En die toorn van Elíhu, die seun van Barágeël, die Busiet, uit die geslag van Ram, het ontvlam; teen Job het sy toorn ontvlam, omdat hy homself regverdig beskou het voor God. |
3. | Sy toorn het ook ontvlam teen sy drie vriende, omdat hulle geen antwoord gevind het nie en Job veroordeel het. |
4. | Maar Elíhu het op Job gewag met sy woorde, omdat hulle ouer was as hy. |
5. | Maar toe Elíhu sien dat daar geen antwoord was in die mond van die drie manne nie, het sy toorn ontvlam. |
6. | En Elíhu, die seun van Barágeël, die Busiet, het begin en gesê: Ek is jonk, en u is hoogbejaard; daarom was ek beskroomd en het gevrees om my kennis aan u mee te deel. |
7. | Ek het gesê: Laat die dae spreek en die veelheid van jare wysheid te kenne gee. |
8. | Maar dit is die Gees in die mens en die asem van die Almagtige wat hulle verstandig maak. |
9. | Nie die bejaardes is wys nie, en nie die oues verstaan wat reg is nie. |
10. | Daarom sê ek: Luister na my; ek wil ook my kennis meedeel. |
11. | Kyk, ek het gewag op u woorde; ek wou luister na verstandige taal van u, totdat u die regte woorde uitgevind het. |
12. | En ek het op u ag gegee; maar kyk: daar was niemand wat Job weerlê het nie, niemand van u wat sy woorde beantwoord het nie. |
13. | Sê maar net nie: Ons het wysheid aangetref, God alleen kan hom verslaan, geen mens nie. |
14. | Teen my tog het hy geen woorde ingebring nie; en met u redeneringe sal ek hom nie beantwoord nie. |
15. | Hulle staan verslae; hulle antwoord nie meer nie; die woorde laat hulle in die steek. |
16. | Sal ek dan wag, omdat hulle nie spreek nie, omdat hulle daar staan sonder antwoord? |
17. | Ek wil ook my deel antwoord; ek wil ook my kennis meedeel. |
18. | Want ek is vol woorde; die gees in my binneste dring my. |
19. | Kyk, my binneste is soos wyn wat geen opening het nie, soos nuwe leersakke wil dit bars. |
20. | Ek wil spreek om lug te kry, my lippe oopmaak en antwoord gee. |
21. | Ek wil nie partydig wees nie; en 'n mens vlei, sal ek nie. |
22. | Want ek verstaan nie om te vlei nie; gou sou my Maker my wegneem! |
← Job (32/42) → |