← Job (30/42) → |
1. | En nou lag hulle wat jonger is as ek, my uit--mense wie se vaders ek te min geag het om by my herdershonde te sit. |
2. | Wat sou die krag van hulle hande my ook baat? Die frisse lewenskrag het by hulle verlore gegaan. |
3. | Hulle is uitgeput deur gebrek en honger, hulle wat die dor land afknaag in die donkerheid van woestheid en verwoesting; |
4. | hulle wat die soutkruid afpluk by die bossies, en die besemboswortel is hulle brood. |
5. | Uit die samelewing word hulle weggejaag; die mense skreeu oor hulle soos oor 'n dief. |
6. | In die afgryslike klowe moet hulle woon, in gate in die grond en in rotse. |
7. | Tussen die bossies skreeu hulle, onder brandnekels kruip hulle bymekaar-- |
8. | dwase, ja, eerlose mense wat met 'n sweep uit die land geslaan word. |
9. | En nou het ek hulle spotlied geword en die onderwerp van hulle gepraat. |
10. | Hulle het 'n afsku van my, staan op 'n afstand van my af en ontsien nie om my in die gesig te spuug nie. |
11. | Want Hy het my boogsnaar losgemaak en my verneder; so het hulle dan teenoor my die teuel laat skiet. |
12. | Aan die regterhand staan die gespuis op; hulle stoot my voete weg en gooi hul onheilspaaie teen my op. |
13. | My pad verniel hulle, hulle help om my te laat val sonder dat hulle self 'n helper het. |
14. | Soos deur 'n wye bres kom hulle; te midde van die puinhope kom hulle aanrol. |
15. | Verskrikkinge is teen my gerig; hulle vervolg my hoogheid soos die wind, en soos 'n wolk het my geluk verbygegaan. |
16. | Daarom stort my siel hom nou uit in my; dae van ellende hou my vas. |
17. | Die nag deurboor my gebeente, en dit val van my af; en my knaende pyne rus nooit nie. |
18. | Deur goddelike oormag is my kleed ontredder; soos die kraag van my lyfrok omspan dit my. |
19. | Hy het my in die modder gewerp, en ek het soos stof en as geword. |
20. | Ek roep U aan om hulp, maar U antwoord my nie; ek staan daar, en U staar my aan. |
21. | U is jeens my verander in 'n onbarmhartige; deur die sterkte van u hand behandel U my as vyand. |
22. | U hef my op die wind, laat my daarop ry; en U laat my vergaan in stormgedruis. |
23. | Want ek weet: U wil my na die dood toe bring en na die huis waar al wat lewe, saamkom. |
24. | Maar sal iemand by die ineenstorting nie nog die hand uitsteek of by sy ondergang om dié rede om hulp roep nie? |
25. | Of het ek nie geween oor hom wat harde dae het nie? Was my siel nie bekommerd oor die behoeftige nie? |
26. | Want ek het op die goeie gehoop, en onheil het gekom; en ek het gewag op lig, en donkerheid het gekom. |
27. | My ingewande kook sonder ophou; dae van ellende het my teëgekom. |
28. | Ek gaan daarheen in die rou, sonder son; ek staan op in die vergadering, ek roep om hulp. |
29. | Ek het 'n broer geword vir die jakkalse en 'n vriend vir die volstruise. |
30. | My vel het swart geword en val van my af, en my gebeente gloei van hitte. |
31. | So het dan my siter 'n rouklag geword en my fluit 'n stem van die wat ween. |
← Job (30/42) → |