| ← Job (29/42) → |
| 1. | En Job het verder sy spreuk aangehef en gesê: |
| 2. | Ag, was ek maar soos in die vorige maande, soos in die dae toe God my bewaar het; |
| 3. | toe sy lamp bo my hoof geskyn het, ek by sy lig die duisternis deurwandel het; |
| 4. | soos ek was in my herfsdae toe die verborgenheid van God oor my tent was; |
| 5. | toe die Almagtige nog by my was, my kinders rondom my; |
| 6. | toe my voetstappe gewas is in dikmelk en die rots by my strome van olie uitgegiet het. |
| 7. | Toe ek uitgegaan het na die poort, op na die stad toe, op die markplein my sitplek reggemaak het, |
| 8. | het die seuns weggekruip as hulle my sien, en grysaards het hulle opgerig en bly staan. |
| 9. | Vorste het hulle woorde ingehou en die hand op hul mond gelê. |
| 10. | Die stem van edeles is teruggehou, en hulle tong het gekleef aan hul verhemelte. |
| 11. | Want het 'n oor net gehoor, dan prys dit my gelukkig; en het 'n oog net gesien, dan gee dit vir my getuienis. |
| 12. | Want ek het die ellendige gered wat om hulp geroep het, en die wees en hom wat geen helper het nie. |
| 13. | Die seën van hom wat klaar was om onder te gaan, het op my gekom; en die hart van die weduwee het ek laat jubel. |
| 14. | Die geregtigheid was my kleed, en ek sy kleed; my reg was soos 'n mantel en 'n tulband. |
| 15. | Oë was ek vir die blinde, en voete vir die lamme was ek. |
| 16. | 'n Vader was ek vir die behoeftiges; en die regsaak van hom wat ek nie geken het nie, het ek ondersoek. |
| 17. | En ek het die tande van die kwaaddoener stukkend gebreek en die buit uit sy gebit geslinger. |
| 18. | So het ek dan gedink: By my nes sal ek die asem uitblaas, en soos die feniks my dae vermenigvuldig. |
| 19. | My wortel staan oop na die water toe, en dou vernag op my tak. |
| 20. | My eer is altyd nuut by my, en my boog bly jonk in my hand. |
| 21. | Na my het hulle geluister vol verwagting, en hulle het stil my raad aangehoor. |
| 22. | Ná my woorde het hulle nie weer gespreek nie, en my rede het op hulle gedrup. |
| 23. | En hulle het op my gewag soos op reën, en hulle mond wyd oopgemaak soos vir lentereëns. |
| 24. | Ek het hulle toegelag as hulle moedeloos was, en hulle kon die lig van my gesig nie verdonker nie. |
| 25. | Het ek die weg na hulle toe gekies, dan sit ek as voorman en woon soos 'n koning onder die skare, soos een wat treuriges vertroos. |
| ← Job (29/42) → |