| ← Job (23/42) → | 
| 1. | Maar Job het geantwoord en gesê: | 
| 2. | Nog altyd geld my geklaag as wederstrewigheid; my hand lê swaar op my gesug. | 
| 3. | Ag, as ek maar geweet het waar ek Hom kon vind, maar kon kom tot by sy woning! | 
| 4. | Dan sou ek die regsaak voor sy aangesig uiteensit en my mond met bewyse vul; | 
| 5. | ek sou verneem die woorde wat Hy my sou antwoord, en verstaan wat Hy aan my sou sê. | 
| 6. | Sou Hy met oormag teen my stry? Nee, maar Hy sou ag op my gee. | 
| 7. | Dan sou daar 'n opregte met Hom staan en pleit, en ek sou vir ewig van my regter vrykom. | 
| 8. | Kyk, ek gaan na die ooste, en Hy is nie daar nie; en na die weste, maar ek bemerk Hom nie. | 
| 9. | As Hy in die noorde werk, aanskou ek Hom nie; buig Hy af na die suide, dan sien ek Hom nie. | 
| 10. | Want Hy weet hoe my wandel is; as Hy my toets, sal ek soos goud te voorskyn kom. | 
| 11. | Aan sy voetstap het my voet vasgehou; sy weg het ek bewaar sonder om uit te draai. | 
| 12. | Van die gebod van sy lippe het ek nie afgewyk nie; die woorde van sy mond het ek bewaar meer as my eie wet. | 
| 13. | Maar Hy bly onveranderlik Een--wie sal Hom dan teëhou? En wat sy siel begeer, dit doen Hy. | 
| 14. | Want Hy sal volbring wat oor my besluit is, en baie sulke dinge is daar by Hom. | 
| 15. | Daarom is ek verskrik voor sy aangesig; as ek daarop ag gee, vrees ek vir Hom. | 
| 16. | En God het my hart week gemaak, en die Almagtige het my verskrik. | 
| 17. | Want ek vergaan nie vanweë die duisternis of vanweë my eie aangesig wat deur donkerheid oordek is nie. | 
| ← Job (23/42) → |