← Job (22/42) → |
1. | Toe het Élifas, die Temaniet, geantwoord en gesê: |
2. | Kan 'n man aan God 'n diens bewys? Nee, aan homself bewys die verstandige 'n diens. |
3. | Het die Almagtige daar belang by dat jy regverdig is? Of is dit voordeel vir Hom dat jy onberispelik wandel? |
4. | Is dit oor jou Godsvrees dat Hy jou bestraf, dat Hy met jou na die gereg gaan? |
5. | Is jou boosheid nie groot en jou ongeregtighede nie sonder einde nie? |
6. | Want jy het pand geneem van jou broers sonder noodsaak, en die klere van die naaktes het jy uitgetrek. |
7. | Aan die vermoeide het jy geen water gegee om te drink nie, en aan die hongerige het jy die brood onthou. |
8. | Maar aan die man van geweld--aan hom behoort die land; en die aansienlike--hy moet daarin woon! |
9. | Weduwees het jy met leë hande weggestuur, en die arms van die wese is verbrysel. |
10. | Daarom is daar vangnette rondom jou en maak die vrees jou skielik skrik. |
11. | Of sien jy die duisternis nie en die oorvloed van waters wat jou bedek? |
12. | Is God nie hemelhoog nie? En aanskou hoe hoog die hoogste sterre staan. |
13. | Maar jy sê: Wat weet God? Kan Hy deur donkerheid heen strafgerig hou? |
14. | Wolke is 'n bedekking vir Hom, sodat Hy nie sien nie; en oor die hemelgewelf wandel Hy. |
15. | Wil jy die pad van die ou tyd hou, wat die kwaaddoeners bewandel het, |
16. | wat gegryp is voor die tyd, wie se grondslag uitgegiet is soos 'n stroom, |
17. | wat tot God gesê het: Bly ver van ons af! en: Wat kan die Almagtige ons aandoen? |
18. | En tog het Hy hulle huise gevul met wat goed is. (Maar die gesindheid van die goddelose is ver van my!) |
19. | Die regverdiges sien dit en is bly, en die onskuldige spot met hulle en sê: |
20. | Waarlik, ons teëstander is verdelg; en wat hulle laat oorbly het, het die vuur verteer. |
21. | Sluit tog vriendskap met Hom, sodat jy vrede kan hê; daardeur sal goeie dinge oor jou kom. |
22. | Neem tog uit sy mond onderrig aan, en lê sy woorde weg in jou hart. |
23. | As jy tot die Almagtige terugkeer, sal jy gebou word; as jy die onreg verwyder uit jou tent. |
24. | En gooi die gouderts in die stof en tussen die rotse van die spruite die goud van Ofir. |
25. | Dan sal die Almagtige jou gouderts wees en stawe silwer vir jou. |
26. | Want dan sal jy in die Almagtige jou verlustig en jou aangesig tot God ophef. |
27. | Jy sal tot Hom bid, en Hy sal jou verhoor; en jy sal jou geloftes betaal. |
28. | Besluit jy iets, dan kom dit tot stand; en oor jou weë skyn 'n lig. |
29. | As dié afdraand loop, dan sê jy: Boontoe! En hom wat neerslagtig is, verlos Hy. |
30. | Hy red selfs hom wat nie onskuldig is nie: ja, hy word gered deur die reinheid van jou hande. |
← Job (22/42) → |