← Job (19/42) → |
1. | Maar Job het geantwoord en gesê: |
2. | Hoe lank sal julle my siel kwel en my met woorde verbrysel? |
3. | Nou tien maal al doen julle my smaadheid aan, mishandel julle my sonder om julle te skaam. |
4. | En het ek ook werklik my misgaan, dan bly my fout by my. |
5. | As julle jul werklik teen my wil groot maak en teen my my smaadheid wil bewys, |
6. | weet dan dat Gód my onregverdig behandel het en met sy net my rondom ingesluit het. |
7. | As ek roep: Geweld! dan word ek nie verhoor nie; ek roep om hulp, maar daar is geen reg nie. |
8. | Hy het my weg toegemuur, sodat ek nie verby kan nie; en oor my paaie het Hy duisternis gesprei. |
9. | My eer het Hy van my afgetrek en die kroon van my hoof weggeneem. |
10. | Hy werp my aan alle kante omver, en--daar gaan ek! En Hy het my verwagting uitgeruk soos 'n boom. |
11. | Ook het Hy sy toorn teen my laat ontvlam en my beskou as een van sy vyande. |
12. | As een man kom sy skare aan en baan 'n pad vir hulle teen my, en hulle slaan die laer op rondom my tent. |
13. | My broers het Hy ver van my verwyder, en my bekendes het vir my heeltemal vreemd geword. |
14. | My nabestaandes ontbreek, en my vertroudes het my vergeet. |
15. | My bywoners en my slavinne beskou my as 'n vreemde; 'n onbekende het ek geword in hulle oë. |
16. | Ek roep my slaaf, maar hy antwoord nie; met my mond moet ek hom smeek. |
17. | My asem is vir my vrou hinderlik, en my slegte reuk vir die kinders van my moeder se skoot. |
18. | Selfs jong seuns minag my; wil ek opstaan, dan spot hulle met my. |
19. | Al my vertroude vriende het 'n afsku van my; en die wat ek liefgehad het, het hulle teen my gekeer. |
20. | My gebeente kleef aan my vel en aan my vlees, en ek het slegs met my tandvlees ontsnap. |
21. | Ontferm julle oor my, ontferm julle oor my, o my vriende, want die hand van God het my getref! |
22. | Waarom vervolg julle my, soos God, en word nie versadig van my vlees nie? |
23. | Ag, mag my woorde tog maar opgeskrywe, mag hulle maar in 'n boek opgeteken word-- |
24. | met 'n ystergriffel en lood--vir altyd in 'n rots ingekap! |
25. | Maar ek, ek weet: My Verlosser leef; en Hy sal as laaste oor die stof opstaan. |
26. | En nadat hulle so my vel afgeskeur het, sal ek nogtans uit my vlees God aanskou; |
27. | Hom wat ék sal aanskou my ten goede, en my oë--en geen vreemde nie--sal sien, My niere versmag van verlange in my binneste. |
28. | As julle sê: Hoe sal ons hom vervolg, aangesien die wortel van die saak in hom gevind is! -- |
29. | vrees dan vir die swaard, want grimmigheid is een van die oortredinge wat die swaard verdien, sodat julle kan weet dat daar 'n oordeel is. |
← Job (19/42) → |