| ← Job (16/42) → |
| 1. | Maar Job het geantwoord en gesê: |
| 2. | Dergelike dinge het ek al baie gehoor: treurige vertroosters is julle almal. |
| 3. | Kom daar nou 'n einde aan winderige woorde? Of wat prikkel jou dat jy antwoord? |
| 4. | Ek sou ook kon spreek soos julle as julle siel in die plek van my siel was; ek sou woorde aanmekaar kon koppel teen julle en my hoof oor julle skud; |
| 5. | ek sou julle kon versterk met my mond, en die troos van my lippe sou versagting aanbring! |
| 6. | As ek sou spreek, my smart word nie versag nie; en as ek ophou--watter verligting bring dit my? |
| 7. | Maar nou het Hy my uitgeput; U het my hele huishouding verwoes. |
| 8. | En U het my gegryp--'n getuie het dit teen my geword; en my siekte staan teen my op, dit getuig openlik teen my. |
| 9. | Sy toorn het verskeur en my as vyand behandel; Hy het teen my gekners met sy tande; as my teëstander kyk Hy my met skerp oë aan. |
| 10. | Hulle het hul mond teen my oopgespalk; smadelik het hulle my op die kakebeen geslaan; soos een man versamel hulle hul teen my. |
| 11. | God gee my oor aan slegte mense en werp my in die hande van die goddelose. |
| 12. | Ek het rustig gelewe; toe het Hy my verbrysel en my aan die nek gegryp en my verpletter; en Hy het my vir Hom as teiken opgestel. |
| 13. | Sy pyle gons om my heen; Hy splits my niere sonder verskoning; Hy werp my gal op die grond uit. |
| 14. | Bres op bres breek Hy in my; Hy loop my storm soos 'n held. |
| 15. | 'n Roukleed het ek oor my vel vasgewerk en my horing in die stof gesteek. |
| 16. | My gesig het rooi geword van geween, en oor my ooglede is daar 'n doodskaduwee; |
| 17. | alhoewel daar geen gewelddaad in my hande is nie en my gebed rein is. |
| 18. | o Aarde, moenie my bloed bedek nie, en laat daar geen rusplek vir my geroep wees nie. |
| 19. | Selfs nou, kyk, in die hemel is my Getuie; en Hy wat saam met my getuig, is in die hoogtes. |
| 20. | My vriende spot met my; uit my oog drup trane tot God-- |
| 21. | dat Hy kan pleit vir 'n man by God en as Menseseun vir sy naaste. |
| 22. | Want maar min jare kom--dan bewandel ek 'n pad waarlangs ek nie terugkeer nie. |
| ← Job (16/42) → |