← Job (13/42) → |
1. | Kyk, alles het my oog gesien, my oor gehoor en opgemerk. |
2. | Wat julle weet, weet ek ook: ek staan nie vir julle terug nie. |
3. | Maar ék sal met die Almagtige spreek, en ek verlang om te pleit by God. |
4. | Maar julle pleister met leuens, kwaksalwers is julle almal. |
5. | Ag, as julle maar heeltemal sou swyg--dan sou dit vir julle wysheid wees! |
6. | Hoor tog na my verantwoording, en luister na die aanvalle van my lippe. |
7. | Wil julle, tot verdediging van God, onreg spreek en ten behoewe van Hom bedrog laat hoor? |
8. | Wil julle vir Hom partydig wees? Of wil julle vir God pleit? |
9. | Sal dit goed wees as Hy julle ondersoek? Of wil julle Hom bedrieg soos 'n mens bedrieg word? |
10. | Hy sal julle sekerlik straf as julle in die geheim partydig is. |
11. | Sal sy hoogheid julle nie verskrik nie, en die skrik vir Hom julle nie oorval nie? |
12. | Julle kernspreuke is spreuke van as, julle skanse word skanse van klei. |
13. | Laat my met rus; dan wil ék spreek; laat dan oor my kom wat wil. |
14. | Waarom sou ek my vlees in my tande neem en my lewe neerlê in my hand? |
15. | Kyk, al wil Hy my ombring--ek hoop op Hom; ek sal tog my wandel voor sy aangesig bepleit. |
16. | Ook is dit my tot heil dat 'n goddelose voor sy aangesig nie sal kom nie. |
17. | Luister goed na my rede en gee gehoor aan my verklaring. |
18. | Kyk tog, ek dra die regsaak voor; ek weet dat ék reg sal hê. |
19. | Wie durf my dan bestry? Ja, dan sou ek swyg en sterwe. |
20. | Moet my net twee dinge nie aandoen nie, dan sal ek my vir u aangesig nie verberg nie: |
21. | trek u hand weg van my af, en laat die skrik vir U my nie beangstig nie. |
22. | Klaag dan maar aan, en ék sal antwoord; of ek sal spreek, en gee U my antwoord. |
23. | Hoeveel is my ongeregtighede en sondes; maak my my oortreding en sonde bekend. |
24. | Waarom verberg U u aangesig en hou my vir 'n vyand van U? |
25. | Wil U 'n verwaaide blaar skrik aanja en die droë stoppel agtervolg, |
26. | dat U bitter dinge oor my beskik en my die ongeregtighede van my jeug laat erwe, |
27. | en dat U my voete in die blok sit en al my paaie bewaak? U trek vir U 'n streep om die sole van my voete; |
28. | en dít iemand wat verval soos hout wat weggevreet is, soos 'n kleed wat die mot verteer. |
← Job (13/42) → |