← Job (12/42) → |
1. | Maar Job het geantwoord en gesê: |
2. | Waarlik, ja, julle is die regte mense, en saam met julle sterf die wysheid uit! |
3. | Ook ek het verstand soos julle; ek staan nie vir julle terug nie; en wie weet sulke dinge nie? |
4. | Ek moet 'n belagging wees vir my vriend, ek wat God aangeroep en verhoring gevind het--'n belagging is die regverdige, die opregte! |
5. | Vir die ongeluk is daar veragting volgens die gedagte van hom wat lekker lewe; dit staan klaar vir hulle wie se voet wankel. |
6. | Rustig staan die tente van die verwoesters, en sekerheid is die deel van hulle wat God vertoorn, van hom wat sy god in sy hand dra. |
7. | Maar vra tog vir die diere, dat hulle jou leer; en die voëls van die hemel, dat hulle jou te kenne gee; |
8. | of spreek die aarde aan, dat dit jou leer, en laat die visse van die see jou vertel. |
9. | Wie weet nie deur al hierdie dinge dat die hand van die HERE dit gemaak het nie? |
10. | In wie se hand die siel is van alles wat leef, en die gees van alle menslike vlees. |
11. | Moet die oor nie woorde toets soos die verhemelte spys proe nie? |
12. | By die grysaards is wysheid, en in lengte van dae is verstand. |
13. | By Hóm is wysheid en mag; Hy het raad en verstand. |
14. | Kyk, Hy breek af, en daar word nie opgebou nie; Hy sluit 'n man as gevangene op, en daar word nie oopgemaak nie. |
15. | Kyk, Hy hou die waters terug, en hulle verdroog; ook laat Hy hulle los, en hulle keer die aarde om. |
16. | By Hóm is krag en beleid; syne is die verdwaalde en hy wat laat dwaal. |
17. | Hy voer raadsmanne uitgeplunder weg, en regters maak Hy tot dwase. |
18. | Hy maak die band los waar konings mee bind, en bind 'n lyfdoek om hulle heupe. |
19. | Hy voer priesters uitgeplunder weg en bring wie vasstaan, tot 'n val. |
20. | Hy neem die spraak van die betroubare mense weg en beroof die ou mense van hul oordeel. |
21. | Hy stort veragting uit oor die edeles en maak die gordel van die magtiges slap. |
22. | Hy openbaar dieptes uit die duisternis uit, en doodskaduwee bring Hy uit in die lig. |
23. | Hy maak nasies groot en laat hulle omkom; Hy brei nasies uit en voer hulle weg. |
24. | Hy neem die verstand weg van die volkshoofde van die land en laat hulle ronddwaal in 'n wildernis, sonder pad. |
25. | Hulle tas in die duisternis, sonder lig; en Hy laat hulle ronddwaal soos 'n dronk man. |
← Job (12/42) → |