| ← Job (10/42) → |
| 1. | Ek walg van my lewe; ek wil my geklaag die vrye loop gee; ek wil spreek in die bitterheid van my siel. |
| 2. | Ek sê tot God: Veroordeel my nie; laat my weet waarom U met my twis. |
| 3. | Is dit voordeel vir U dat U verdruk; dat U die arbeid van u hande verwerp, terwyl U oor die planne van die goddelose lig laat skyn? |
| 4. | Het U vleeslike oë? Of sien U soos 'n mens sien? |
| 5. | Is u dae soos die dae van 'n mens, of u jare soos die dae van 'n man? |
| 6. | dat U soek na my ongeregtigheid en vra na my sonde, |
| 7. | ofskoon U weet dat ek nie skuldig is nie en dat daar niemand is wat uit u hand kan red nie? |
| 8. | U hande het my geformeer en my gemaak, heeltemal rondom; en U vernietig my! |
| 9. | Bedink tog dat U my soos klei gevorm het, en wil U my tot stof laat terugkeer? |
| 10. | Het U my nie soos melk uitgegiet en my soos kaas laat dik word nie? |
| 11. | Met vel en vlees het U my beklee, en met beendere en senings het U my deurvleg. |
| 12. | Die lewe, ja, guns het U aan my bewys, en u sorg het my gees bewaak. |
| 13. | Maar daarby het U dít verberg in u hart, ek weet dat dít u toeleg was: |
| 14. | As ek gesondig het, sou U my waarneem en my nie vryspreek van my ongeregtigheid nie. |
| 15. | Was ek skuldig--wee my! En was ek regverdig, ek sou my hoof nie kon ophef nie, sat van skande en bewus van my ellende. |
| 16. | En as my hoof hom ophef, sou U my jaag soos 'n leeu en U opnuut wonderbaarlik teenoor my gedra. |
| 17. | U sou altyd nuwe getuies teen my bring en u grimmigheid teen my vermeerder--altyd nuwe leërafdelings teen my! |
| 18. | Waarom tog het U my uit die moederskoot laat uitgaan? Ek moes gesterf het sonder dat 'n oog my gesien het. |
| 19. | Ek moes gewees het of ek daar nie was nie; van die moederskoot af moes ek na die graf gedra gewees het. |
| 20. | Is my dae nie min nie? Laat Hy ophou, my laat staan, dat ek 'n bietjie vrolik kan wees, |
| 21. | voordat ek heengaan--en nie terugkom nie--na die land van duisternis en doodskaduwee, |
| 22. | 'n land van donkerheid, soos middernag, van doodskaduwee en wanorde, en dit gee 'n skynsel--soos middernag! |
| ← Job (10/42) → |