| ← Isaiah (64/66) → |
| 1. | Ag, as U maar die hemele wou skeur, wou neerdaal, dat die berge wankel voor u aangesig |
| 2. | --soos vuur die houtjies aan die brand steek, vuur die water laat opborrel--om u Naam aan u teëstanders bekend te maak, sodat nasies voor u aangesig kan bewe |
| 3. | wanneer U vreeslike dinge doen waar ons nie op gehoop het nie--as U maar wou neerdaal, sodat die berge wankel voor u aangesig! |
| 4. | Van ouds af tog het niemand dit gehoor of verneem nie, geen oog het 'n God gesien wat werksaam is vir wie op Hom wag nie, behalwe U. |
| 5. | U kom hom tegemoet wat met vreugde geregtigheid beoefen, hulle wat aan U dink op u weë. Kyk, U was toornig, en ons het gesondig; in dié toestand was ons baie lank, en--sal ons verlos word? |
| 6. | En ons het almal geword soos 'n onreine, en al ons geregtighede soos 'n besoedelde kleed; en ons het almal verdor soos blare, en ons ongeregtighede het ons weggevoer soos die wind. |
| 7. | En daar was niemand wat u Naam aangeroep het, wat hom beywer het om U aan te kleef nie; want U het u aangesig vir ons verberg en laat ons wegsmelt deur ons ongeregtighede. |
| 8. | Maar nou, HERE, U is ons Vader; ons is die klei, en U is ons Formeerder, en ons almal is die werk van u hand. |
| 9. | HERE, wees nie uitermate toornig nie, en dink nie vir ewig aan die ongeregtigheid nie; aanskou dit tog dat ons almal u volk is. |
| 10. | U heilige stede het 'n woestyn geword; Sion het 'n woestyn geword, Jerusalem 'n wildernis. |
| 11. | Ons heilige en heerlike huis waar ons vaders U geloof het, is met vuur verbrand, en al wat vir ons dierbaar was, het 'n puinhoop geword. |
| 12. | HERE, sal U by hierdie dinge U bedwing? Sal U swyg en ons uitermate verdruk? |
| ← Isaiah (64/66) → |