← Isaiah (46/66) → |
1. | Bel het inmekaargesak, Nebo staan krom; hulle afgode is vir die diere en die vee; beelde wat julle rondgedra het, is opgelaai, 'n vrag vir die vermoeide diere. |
2. | Saam staan hulle krom, inmekaargesak; hulle kon die vrag nie red nie, maar het self in gevangenskap gegaan. |
3. | Luister na My, o huis van Jakob en die hele oorblyfsel van die huis van Israel, julle wat deur My gedra is van die moederskoot af, opgeneem is van die geboorte af; |
4. | en tot die ouderdom toe is Ék dieselfde, ja, tot die grysheid toe sal Ek julle dra; Ék het dit gedoen, en Ék sal julle opneem, en Ék sal dra en red. |
5. | By wie wil julle My vergelyk en My net so maak en My gelykstel, dat ons eenders kan wees? |
6. | Hulle wat goud uit die geldsak skud en silwer afweeg met die weegskaal, huur 'n goudsmid, en hy maak daar 'n god van; hulle kniel neer, ook buig hulle. |
7. | Hulle hef hom op die skouer; hulle dra hom en sit hom op sy plek neer. Daar staan hy! Hy wyk nie van sy plek nie; ook al roep iemand hom, hy antwoord nie; hy verlos hom nie uit sy benoudheid nie. |
8. | Dink hieraan en wees beslis; neem dit ter harte, o afvalliges! |
9. | Dink aan die dinge wat tevore was, van ouds af, dat Ek God is, en daar is geen ander nie; Ek is God, en daar is niemand soos Ek nie; |
10. | wat van die begin af verkondig die einde, en van die voortyd af wat nog nie gebeur het nie; wat sê: My raad sal bestaan, en al wat my behaag, sal Ek doen; |
11. | wat 'n roofvoël roep uit die Ooste, die man van my raad uit 'n ver land; soos Ek dit gespreek het, sal Ek dit ook laat kom; Ek het dit voorberei, Ek sal dit ook doen. |
12. | Luister na My, julle wat hard is van hart, julle wat ver is van die geregtigheid! |
13. | Ek bring my geregtigheid naby; dit is nie ver nie, en my heil sal nie vertoef nie; en Ek gee heil in Sion, aan Israel my heerlikheid. |
← Isaiah (46/66) → |