| ← Hosea (9/14) → |
| 1. | Wees nie bly met gejuig, o Israel, soos die volke nie, want jy het gehoereer van jou God af weg; jy het hoereloon liefgehad op al die koringdorsvloere. |
| 2. | Dorsvloer en parskuip sal hulle nie voed nie, en die mos sal hulle in die steek laat. |
| 3. | Hulle sal in die land van die HERE nie bly nie; maar Efraim sal na Egipte teruggaan, en in Assur sal hulle eet wat onrein is. |
| 4. | Hulle sal vir die HERE geen wyn uitgiet nie, en hulle slagoffers sal vir Hom nie welgevallig wees nie; soos tranebrood sal hulle spys vir hulle wees. Almal wat daarvan eet, word verontreinig; want hulle brood is vir hulleself: dit sal nie in die huis van die HERE kom nie. |
| 5. | Wat sal julle dan doen op die feestyd en op die feesdag van die HERE? |
| 6. | Want kyk, hulle gaan heen weens die verwoesting: Egipte sal hulle versamel, Mof hulle begrawe; onkruid sal hulle skat van silwergoed in besit neem, dorings in hulle tente wees. |
| 7. | Die dae van besoeking het gekom, die dae van vergelding het gekom; Israel sal dit ervaar! Die profeet word 'n dwaas, die man van die gees 'n waansinnige, weens die grootheid van jou ongeregtigheid, en omdat die vyandskap groot is. |
| 8. | Efraim is 'n spioen teenoor my God; wat die profeet aangaan, die net van 'n voëlvanger is op al sy weë gesprei, vyandskap in die huis van sy God. |
| 9. | Hulle het baie, baie verkeerd gehandel soos in die dae van Gíbea. Hy sal dink aan hulle ongeregtigheid, besoeking doen oor hulle sondes. |
| 10. | Ek het Israel gevind soos druiwe in die woestyn; Ek het julle vaders gesien soos voorvye aan die vyeboom in sy eerste groei; maar húlle het na Baäl-Peor gekom en hulle aan die skandegod toegewy en 'n verfoeisel geword net soos die voorwerp van hulle liefde. |
| 11. | Efraim--sy heerlikheid sal wegvlieg soos 'n voël. Geen geboorte, geen moederskap, geen ontvangenis meer nie! |
| 12. | Ja, al sou hulle hul kinders grootmaak, Ek maak hulle kinderloos, sonder mense; ja, wee hulleself ook as Ek van hulle wyk. |
| 13. | Efraim, soos Ek dit sien na Tirus heen, is geplant in 'n mooi omgewing, maar Efraim sal sy seuns na die moordenaar moet uitbring. |
| 14. | Gee hulle, o HERE--wat sal U gee? --gee hulle 'n kinderlose moederskoot en uitgedroogde borste. |
| 15. | Al hulle boosheid is byeen in Gilgal, want daar het Ek hulle begin haat weens die boosheid van hulle handelinge; Ek sal hulle uit my huis uitdrywe, hulle nie meer liefhê nie. Al hulle vorste is opstandig. |
| 16. | Efraim is getref, hulle wortel het verdor, hulle dra geen vrug meer nie; ook wanneer hulle kinders baar, sal Ek nogtans die lieflinge van hulle skoot ombring. |
| 17. | My God sal hulle verwerp, omdat hulle na Hom nie geluister het nie, en hulle sal rondswerwe onder die nasies. |
| ← Hosea (9/14) → |