| ← Hebrews (3/13) → |
| 1. | Daarom, heilige broeders, deelgenote van die hemelse roeping, let op die Apostel en Hoëpriester van ons belydenis, Christus Jesus, |
| 2. | wat getrou was aan Hom wat Hom aangestel het, net soos Moses ook in sy hele huis. |
| 3. | Want Hy is meer heerlikheid waardig geag as Moses, namate hy wat die huis gebou het, meer eer het as die huis; |
| 4. | want elke huis word deur iemand gebou, maar Hy wat alle dinge gebou het, is God. |
| 5. | En Moses was wel getrou in sy hele huis as 'n dienaar, om te getuig van wat nog gespreek sou word, |
| 6. | maar Christus as Seun oor sy huis. En ons is sy huis as ons net die vrymoedigheid en die roem van die hoop tot die einde toe onwrikbaar vashou. |
| 7. | Daarom, soos die Heilige Gees spreek: Vandag as julle sy stem hoor, |
| 8. | verhard julle harte nie soos in die verbittering, in die dag van die versoeking in die woestyn nie, |
| 9. | waar julle vaders My versoek, My beproef het en my werke veertig jaar lank gesien het. |
| 10. | Daarom het Ek vertoornd geword op daardie geslag en gesê: Altyd dwaal hulle met die hart. Maar húlle het my weë nie leer ken nie, |
| 11. | sodat Ek in my toorn gesweer het: Hulle sal in my rus nie ingaan nie. |
| 12. | Sorg daarvoor, broeders, dat daar nie miskien in een van julle 'n bose en ongelowige hart is deurdat hy van die lewende God afvallig word nie. |
| 13. | Maar vermaan mekaar elke dag so lank as dit vandag genoem word, sodat niemand van julle deur die verleiding van die sonde verhard word nie. |
| 14. | Want ons het deelgenote van Christus geword, as ons net die begin van ons vertroue tot die einde toe onwrikbaar vashou; |
| 15. | omdat daar gesê word: Vandag as julle sy stem hoor, verhard julle harte nie soos in die verbittering nie. |
| 16. | Wie was dit dan wat gehoor het en Hom verbitter het? Was dit nie almal wat onder leiding van Moses uit Egipte gegaan het nie? |
| 17. | En op wie was Hy veertig jaar lank vertoornd? Was dit nie op die wat gesondig het, wie se lyke in die woestyn geval het nie? |
| 18. | En aan wie het Hy gesweer dat hulle in sy rus nie sal ingaan nie, behalwe aan die ongehoorsames? |
| 19. | En ons sien dat hulle deur ongeloof nie kon ingaan nie. |
| ← Hebrews (3/13) → |