← Genesis (13/50) → |
1. | So het Abram dan uit Egipte na die Suidland opgetrek, hy met sy vrou en sy hele besitting, en Lot saam met hom. |
2. | En Abram was baie ryk aan vee, aan silwer en goud. |
3. | En hy het van plek tot plek uit die Suidland getrek tot by Bet-el, na die plek waar sy tent in die begin gestaan het, tussen Bet-el en Ai, |
4. | na die plek van die altaar wat hy vroeër daar gebou het. En Abram het daar die Naam van die HERE aangeroep. |
5. | En Lot, wat saam met Abram getrek het, het ook kleinvee en beeste en tente gehad. |
6. | En die land kon hulle nie dra om saam te woon nie, want hulle besittings was groot, sodat hulle nie saam kon woon nie. |
7. | En daar het twis ontstaan tussen die veewagters van Abram en die veewagters van Lot. Ook het die Kanaäniete en Feresiete destyds in die land gewoon. |
8. | Toe sê Abram vir Lot: Laat daar tog geen twis wees tussen my en jou, en tussen my wagters en jou wagters nie; ons is mos broers. |
9. | Lê die hele land nie voor jou oop nie? Skei jou tog van my af; gaan jy links, dan sal ek regs gaan, en gaan jy regs, dan sal ek links gaan. |
10. | Toe slaan Lot sy oë op en sien dat die hele Jordaanstreek oral volop water het; voordat die HERE Sodom en Gomorra verwoes het, was dit in die rigting van Soar soos die tuin van die HERE, soos Egipteland. |
11. | En Lot het vir hom die hele Jordaanstreek gekies, en Lot het na die ooste weggetrek. So het hulle dan die een van die ander geskei. |
12. | Abram het bly woon in die land Kanaän, en Lot het gaan woon in die stede van die Jordaanstreek en sy tente tot by Sodom opgeslaan. |
13. | En die manne van Sodom was sleg en groot sondaars voor die HERE. |
14. | En die HERE sê vir Abram nadat Lot van hom geskei het: Slaan tog jou oë op en kyk van die plek waar jy staan, na die noorde en suide, na die ooste en weste; |
15. | want die hele land wat jy sien, sal Ek aan jou gee en aan jou nageslag tot in ewigheid. |
16. | En Ek sal jou nageslag maak soos die stof van die aarde, sodat as iemand die stof van die aarde kan tel, jou nageslag ook getel kan word. |
17. | Maak jou klaar, trek die land deur in sy lengte en sy breedte, want Ek sal dit aan jou gee. |
18. | Toe het Abram al verder tente opgeslaan en gaan woon by die terpentynbome van Mamre wat by Hebron is; en hy het daar vir die HERE 'n altaar gebou. |
← Genesis (13/50) → |