← Acts (24/28) → |
1. | En vyf dae daarna het die hoëpriester Ananías met die ouderlinge en 'n sekere advokaat Tertúllus afgekom en Paulus by die goewerneur aangeklaag. |
2. | En toe hy opgeroep is, begin Tertúllus hom beskuldig en sê: |
3. | Dat 'n groot vrede deur u, hoogedele Felix, ons te beurt val, en dat daar hervorminge deur u voorsorg in elke opsig en oral vir hierdie nasie tot stand kom, neem ons met alle dankbaarheid aan. |
4. | Maar om u nie te lank op te hou nie, versoek ek u om ons in u vriendelikheid kortliks aan te hoor. |
5. | Want ons het gevind dat hierdie man 'n pes is en 'n verwekker van oproer onder al die Jode in die wêreld en 'n voorman van die sekte van die Nasaréners, |
6. | wat selfs probeer het om die tempel te ontheilig. Ons het hom gevange geneem en wou hom volgens ons wet oordeel; |
7. | maar Lísias, die owerste oor duisend, het gekom en hom met groot geweld uit ons hande weggeneem |
8. | en bevel gegee dat sy beskuldigers voor u moet kom. Van hom sal u self, ná ondersoek, kennis kan verkry van al hierdie dinge waarvan ons hom beskuldig. |
9. | En die Jode het ook saamgestem en gesê dat dit so was. |
10. | En nadat die goewerneur vir hom gewink het om te praat, het Paulus geantwoord: Omdat ek weet dat u oor hierdie volk al baie jare lank regter is, verdedig ek my saak met goeie moed, |
11. | aangesien u te wete kan kom dat dit nie meer as twaalf dae is vandat ek opgegaan het om in Jerusalem te aanbid nie. |
12. | En hulle het my nie in die tempel gevind, besig om met iemand te praat of 'n opstand van die volk te verwek nie, en ook nie in die sinagoges of in die stad nie. |
13. | En hulle kan ook die dinge waarvan hulle my nou beskuldig, nie bewys nie. |
14. | Maar dit erken ek voor u dat ek volgens die Weg wat hulle sekte noem, so die God van my vaders dien, terwyl ek alles glo wat in die wet en in die profete geskrywe is, |
15. | en 'n hoop op God het, 'n hoop wat hulle self ook verwag, dat daar 'n opstanding sal wees van die dode, regverdiges sowel as onregverdiges. |
16. | Daarom oefen ek my ook om altyd voor God en die mense 'n rein gewete te hê. |
17. | Maar ná baie jare het ek gekom om aan my volk aalmoese te bring en offers. |
18. | En terwyl ek hiermee besig was, het sekere Jode uit Asië my in die tempel gevind nadat ek geheilig was, nie met 'n skare of met 'n opskudding nie. |
19. | Hulle behoort hier voor u te wees om beskuldiging in te bring as hulle iets teen my het. |
20. | Of laat hierdie manne self sê of hulle enige onreg in my gevind het toe ek voor die Raad gestaan het, |
21. | behalwe oor hierdie een woord wat ek uitgeroep het terwyl ek onder hulle gestaan het, naamlik: Oor die opstanding van die dode staan ek vandag by u voor die gereg! |
22. | Toe Felix dit hoor, het hy hulle saak uitgestel, alhoewel hy noukeurig genoeg met die dinge van die Weg bekend was; en hy het gesê: Wanneer Lísias, die owerste oor duisend, afkom, sal ek julle saak ten volle ondersoek. |
23. | En hy het die hoofman oor honderd beveel om Paulus te bewaak, maar dat hy verligting moes hê, en dat hy niemand van sy eie mense moes verhinder om hom te bedien of te besoek nie. |
24. | En 'n paar dae daarna het Felix gekom saam met Drusílla, sy vrou, wat 'n Jodin was, en het Paulus laat haal en hom aangehoor oor die geloof in Christus. |
25. | Maar toe hy spreek oor geregtigheid en selfbeheersing en die toekomstige oordeel, het Felix baie bang geword en geantwoord: Gaan vir hierdie keer heen, en as ek 'n geleentheid vind, sal ek jou laat roep. |
26. | En tegelykertyd het hy ook gehoop dat geld aan hom deur Paulus sou gegee word om hom los te laat. Daarom het hy hom ook dikwels laat haal en met hom gesprekke gehad. |
27. | Maar twee jaar het verbygegaan, en toe kry Felix vir Porcius Festus as opvolger; en omdat Felix aan die Jode 'n guns wou bewys, het hy Paulus as gevangene agtergelaat. |
← Acts (24/28) → |