| ← 2Corinthians (6/13) → | 
| 1. | En as medewerkers vermaan ons julle ook dat julle die genade van God nie tevergeefs mag ontvang nie. | 
| 2. | Want Hy sê: In die tyd van die welbehae het Ek jou verhoor, en in die dag van heil het Ek jou gehelp. Kyk, nou is dit die tyd van die welbehae; kyk, nou is die dag van heil. | 
| 3. | Ons lê nie die minste hindernis in die weg nie, sodat die bediening nie beklad mag word nie; | 
| 4. | maar in alles beveel ons ons aan as dienaars van God, met baie geduld, in verdrukkinge, in node, in benoudhede; | 
| 5. | in slae, in gevangenskappe, in oproere, in arbeid, in slapelose nagte, in hongerly; | 
| 6. | in reinheid, in kennis, in lankmoedigheid, in vriendelikheid, in die Heilige Gees, in ongeveinsde liefde; | 
| 7. | in die woord van waarheid, in die krag van God, deur die wapens van die geregtigheid in die regter-- en linkerhand; | 
| 8. | deur eer en oneer, deur slegte en goeie gerug, as verleiers en tog waaragtig; | 
| 9. | as onbekendes en tog goed bekend, as sterwendes en kyk, ons lewe, as getugtig en tog nie gedood nie; | 
| 10. | as bedroefdes, maar altyd opgeruimd; as armes, maar wat baie ander ryk maak; as mense wat niks het nie en tog alles besit. | 
| 11. | Ons mond het teenoor julle oopgegaan, Korinthiërs, ons hart het verruim geword. | 
| 12. | Nie in ons het julle dit te nou nie, maar in jul binneste het julle dit te nou. | 
| 13. | Maar by wyse van vergoeding--ek praat soos met kinders--moet julle ook verruim word. | 
| 14. | Moenie in dieselfde juk trek saam met ongelowiges nie, want watter deelgenootskap het die geregtigheid met die ongeregtigheid, en watter gemeenskap het die lig met die duisternis? | 
| 15. | En watter ooreenstemming het Christus met Bélial, of watter aandeel het die gelowige met die ongelowige? | 
| 16. | Of watter ooreenkoms het die tempel van God met die afgode? Want julle is die tempel van die lewende God, soos God gespreek het: Ek sal in hulle woon en onder hulle wandel, en Ek sal hulle God wees, en hulle sal vir My 'n volk wees. | 
| 17. | Daarom, gaan onder hulle uit en sonder julle af, spreek die Here; en raak nie aan wat onrein is nie, en Ek sal julle aanneem; | 
| 18. | en Ek sal vir julle 'n Vader wees, en julle sal vir My seuns en dogters wees, spreek die Here, die Almagtige. | 
| ← 2Corinthians (6/13) → |