← 1Kings (18/22) → |
1. | En geruime tyd daarna het die woord van die HERE in die derde jaar tot Elía gekom en gesê: Gaan heen, vertoon jou aan Agab, dan wil Ek reën gee op die aarde. |
2. | En Elía het gegaan om hom aan Agab te vertoon. En die hongersnood was swaar in Samaría. |
3. | Toe laat Agab Obádja, wat oor die paleis was, roep. En Obádja het die HERE baie gevrees. |
4. | Want toe Isébel die profete van die HERE uitgeroei het, het Obádja honderd profete geneem en hulle vyftig by vyftig man in 'n spelonk weggesteek en hulle met brood en water onderhou. |
5. | En Agab het vir Obádja gesê: Trek deur die land na al die waterfonteine en na al die spruite; miskien sal ons gras kry, sodat ons die perde en muile in die lewe kan hou en van die vee nie hoef uit te roei nie. |
6. | En hulle het die land onder mekaar verdeel om dit deur te trek: Agab het afsonderlik met een pad getrek, en Obádja het afsonderlik met 'n ander pad getrek. |
7. | Terwyl Obádja op pad was, kom Elía hom meteens tegemoet; en toe hy hom herken, val hy op sy aangesig en vra: Is dit u, my heer Elía? |
8. | En hy sê: Dit is ek; gaan sê aan jou heer: Elía is daar. |
9. | Maar hy vra: Wat het ek gesondig, dat u u dienaar oorgee in die hand van Agab om my om die lewe te bring? |
10. | So waar as die HERE u God leef, daar is geen nasie of koninkryk waar my heer nie heen gestuur het om u te soek nie; en as hulle sê: Hy is nie hier nie--dan laat hy die koninkryk en die nasie sweer dat hulle u nie kon vind nie. |
11. | En nou beveel u: Gaan sê aan jou heer: Elía is daar! |
12. | As ek nou van u af weggaan en die Gees van die HERE u wegneem--ek weet nie waarheen nie--en ek kom om Agab berig te bring en hy vind u nie, dan sal hy my doodmaak; en u dienaar vrees die HERE van sy jeug af. |
13. | Is dit nie aan my heer meegedeel wat ek gedoen het toe Isébel die profete van die HERE gedood het nie: dat ek van die profete van die HERE honderd man, vyftig by vyftig, in 'n spelonk weggesteek en hulle met brood en water onderhou het? |
14. | En nou beveel u: Gaan sê aan jou heer: Elía is daar! dat hy my kan doodmaak! |
15. | Maar Elía sê: So waar as die HERE van die leërskare leef, voor wie se aangesig ek staan, ek sal my verseker vandag aan hom vertoon! |
16. | En Obádja het Agab tegemoetgegaan en hom dit meegedeel; en Agab het Elía tegemoetgegaan. |
17. | En net toe Agab Elía sien, vra Agab vir hom: Is dit jy, jou beroerder van Israel? |
18. | Toe sê hy: Ek het Israel nie in beroering gebring nie, maar u en u familie, deurdat u die gebooie van die HERE verlaat het en agter die Baäls aan geloop het. |
19. | Stuur dan nou, laat die hele Israel by my bymekaarkom op die berg Karmel, ook die vier honderd en vyftig profete van Baäl en die vier honderd profete van Asjéra wat aan die tafel van Isébel eet. |
20. | En Agab het gestuur onder al die kinders van Israel en die profete op die berg Karmel bymekaar laat kom. |
21. | En Elía het nader gekom na die hele volk en gesê: Hoe lank hink julle op twee gedagtes? As die HERE God is, volg Hom na; en as Baäl dit is, volg hom na! Maar die volk het hom niks geantwoord nie. |
22. | Toe sê Elía vir die volk: Ek het alleen oorgebly as profeet van die HERE, terwyl die profete van Baäl vier honderd en vyftig is. |
23. | Maar laat hulle vir ons twee bulle gee; dan kan hulle vir hul een bul uitkies en dit in stukke verdeel en op die hout sit, maar sonder om vuur te maak; en ék sal die ander bul gereedmaak en op die hout sit, maar ek sal geen vuur maak nie. |
24. | Roep julle dan die naam van julle god aan, en ék sal die Naam van die HERE aanroep; en die God wat met vuur antwoord, Hy sal God wees. En die hele volk het geantwoord en gesê: Die woord is goed. |
25. | Verder het Elía aan die profete van Baäl gesê: Kies vir julle een bul uit en maak dit eerste gereed, want julle is die meeste; en roep die naam van julle god aan, maar julle mag geen vuur maak nie. |
26. | En hulle het die bul wat hy hulle gegee het, geneem en dit gereedgemaak en die naam van Baäl van die môre tot die middag aangeroep en gesê: o Baäl, gee ons antwoord! Maar daar was geen stem en niemand wat antwoord nie. En hulle het rondgespring by die altaar wat hulle gemaak het. |
27. | En toe dit middag was, het Elía met hulle gespot en gesê: Roep hard; hy is mos 'n god! Hy is seker in gepeins, of hy het hom seker afgesonder, of hy is seker op reis; miskien slaap hy en moet wakker word. |
28. | En hulle het hard geroep en hulleself volgens hul gebruik met swaarde en spiese stukkend gekerwe tot die bloed op hulle uitgespuit het. |
29. | En toe die middag verby was, het hulle begin raas tot op die tyd dat die spysoffer gebring word; maar daar was geen stem en niemand wat antwoord nie, en geen opmerksaamheid nie. |
30. | Toe sê Elía vir die hele volk: Kom nader na my. En die hele volk het nader gekom na hom; en hy het die altaar van die HERE herstel wat afgebreek was. |
31. | Daarop neem Elía twaalf klippe volgens die getal van die stamme van Jakob se kinders tot wie die woord van die HERE gekom het om te sê: Israel sal jou naam wees-- |
32. | en hy bou met die klippe 'n altaar in die Naam van die HERE. Daarna het hy 'n sloot gemaak rondom die altaar, 'n ruimte vir omtrent twee mate saad, |
33. | en die hout gerangskik en die bul in stukke verdeel en bo-op die hout gelê. |
34. | Toe sê hy: Maak vier kruike vol water en giet dit op die brandoffer en op die hout. En hy sê: Doen dit vir die tweede maal. En hulle het dit vir die tweede maal gedoen. En hy sê: Doen dit vir die derde maal. En hulle het dit vir die derde maal gedoen, |
35. | sodat die water rondom die altaar geloop het; en ook die sloot het hy vol water gemaak. |
36. | En op die tyd dat hulle die spysoffer bring, het die profeet Elía nader gekom en gesê: HERE, God van Abraham, Isak en Israel, laat dit vandag bekend word dat U God in Israel is, en ek u kneg, en dat ek al hierdie dinge op u woord gedoen het. |
37. | Antwoord my, HERE, antwoord my, sodat hierdie volk kan erken dat U, HERE, God is, en dat U hulle hart tot U laat terugkeer. |
38. | Daarop het die vuur van die HERE neergeval en die brandoffer en die hout en die klippe en die stof verteer, ja, die water wat in die sloot was, opgelek. |
39. | En toe die hele volk dit sien, het hulle op hul aangesig geval en gesê: Die HERE, Hy is God, die HERE, Hy is God! |
40. | Maar Elía sê vir hulle: Gryp die profete van Baäl! Laat niemand van hulle vryraak nie! En hulle het hul gegryp; en Elía het hulle afgebring na die spruit Kison en hulle daar geslag. |
41. | Toe sê Elía vir Agab: Trek op, eet en drink, want hoor, die gedruis van die reën! |
42. | En Agab het opgetrek om te eet en te drink; maar Elía het op die top van die Karmel geklim en hom op die grond neergebuig en sy aangesig tussen sy knieë gesteek. |
43. | Daarop sê hy vir sy dienaar: Klim tog op, kyk uit na die see. En hy het opgeklim en uitgekyk en geroep: Daar is niks nie. Toe sê hy: Gaan weer--sewe maal. |
44. | En die sewende maal roep hy: Daar gaan 'n wolkie soos 'n man se hand op uit die see. Toe sê hy: Gaan op, sê vir Agab: Span in en trek af, dat die reën jou nie terughou nie. |
45. | En in 'n oogwink was die hemel swart van wolke en wind, en 'n groot reën het gekom; en Agab het op die wa geklim en weggetrek na Jísreël; |
46. | maar die hand van die HERE was oor Elía, sodat hy sy heupe omgord en voor Agab uit geloop het in die rigting na Jísreël. |
← 1Kings (18/22) → |